"Ek wil net hê mense moet weet..." Veroordeelde praat
Schweizer-Reneke - Vir baie mense was hy die gesig van wreedheid - 'n gewetenlose wat koudbloedig gehelp het om 'n ander dood te maak.
Maar Fanie Cloete (38) is eerstens 'n méns. 'n Eggenoot. 'n Pa.
"Ek wil net hê mense moet weet ek is nie 'n stuk gemors nie, ek is nie 'n krimineel nie. Ek is 'n ou wat 'n verkeerde besluit geneem het. En nie terug deins om my straf te dra nie."
Die gebeure van die aand by 'n kuierplek buite Schweizer-Reneke toe 'n vermeende motordief dood is, spook elke dag by Cloete.
Aanvanklik was hy deel van 'n groep van nege wat vir die moord op die vermeende dief aangekla is. Stelselmatig het die groep kleiner geword en eindelik is slegs Cloete skuldig bevind. Hy is 10 jaar tronkstraf opgelê. Hy het teen die vonnis geappéleer en is ná agt maande agter tralies vrygelaat hangende die appél.
Drie regters het egter beslis dat sy appél sonder gronde is en toe Stellalander met hom gesels het, het hy gewag dat die polisie hom met sy lasbrief kom bedien sodat hy weer by die gevangenis moet gaan aanmeld.
"Ek is so flippen moedeloos. Net toe my lewe begin regdraai, toe beland ek midde in die gemors. Ek is nie onskuldig nie, maar ek was nie alleen nie..." Fanie laat die sin hang. Wil dan iets byvoeg, maar besluit dan daarteen.
"Ek is baie dankbaar vir mense wat my nog die heeltyd ondersteun. Mense soos my werkgewer en dié wat bydra tot my regshulp-fonds. Ek sal nooit die woorde hê om na behore dankie te sê nie. Ek hoop net julle sal eendag besef wat jul ondersteuning vir my beteken het."
En só, sonder selfbejammering, maar met dankbaarheid, sluit hy die onderhoud af.
En jy bly met die gedagte dat soms is 'n voorbladberig méér as net 'n storie met name en ouderdomme, soms is daar ménse by betrokke.
* Persone wat inligting wil hê oor Fanie Cloete se regshulp-fonds, kan Japie van Zyl Prokureurs op 053 963 2008/9 kontak.
|